Jaarlikse Sakebanket


Sakeleier van die Jaar

Dié glansryke geleentheid word elke jaar – gewoonlik op die laaste Donderdag in Augustus (datum kan verander) gehou. Die banket word aangebied in samewerking met Die Burger en Media24 en ‘n opwindende hoogtepunt is wanneer die Sakeleier van die Jaar aangewys word.

Die banket word gewoonlik by die Westin-hotel in die Kaapse middestad gehou en deur 200 tot 350 gaste bygewoon. Geleentheid word gebied aan maatskappye om ‘n tafel vir die aand aan te skaf, of aan individue wat hul vriende wil onthaal. Dit is dan ook die ideale geleentheid vir regsfirmas en finansiële ondernemings wat hul kliënte ‘n uitsonderlike ervaring wil bied.

Die Ambassadeur van die Kaapstad Sakekamer wat die aand se hooftoespraak lewer, is een van die hoofaantrekkingskragte van die geleentheid wat dan afsluit op ‘n hoë noot met die aanwysing van die Sakeleier van die Jaar.

Die resultaat is ‘n aand van glans, opwinding en tradisie.

Die banket begin met versnaperinge en drankies, waarna die banket geopen word met ‘n heildronk op Suid-Afrika. Die verrigtinge begin met gebed, en daarna lewer die Ambassadeur sy toespraak wat ook op twee lewensgrootte skerms vertoon word.

Benewens die heerlike driegang-maaltyd, is die ander hoogtepunt van die aand – met speelse wenke wat in die dekor ingewerk is om mense te laat raai – die aanwysing van die Sakeleier van die Jaar. Die wenner lewer n kort toespraak en soms is daar ‘n videovertoning of ‘n vrae-en-antwoordsessie.

Ná afloop van die aand is daar ‘n fotosessie waarvan die foto’s die volgende oggend op twee volblaaie in Die Burger verskyn. Elke gas ontvang aan die einde van die aand ‘n spesiale gedenkkoerant van vier bladsye met ‘n tweebladsy-artikel elk oor die Ambassadeur en die Sakeleier van die Jaar.

Hierdie is nie net die ideale geleentheid om eer te bring aan sakeleiers nie, maar ook om invloedryke kontakte te maak, geïnspireer te word deur die kennis van die ambassadeurs en ‘n verrykende ervaring te bied aan kliënte.

Sakeleier van die Jaar

Image

Die idee vir die jaarlikse aanwysing van ‘n Sakeleier van die Jaar in die Wes-Kaap het in 1990 ontstaan. Dit was die geesteskind van Mof Terreblanche en Ebbe Dommisse. Mof, destyds voorsitter van Kaapstad Sakekamer, het Ebbe, toenmalige hoofredakteur van Die Burger, daaroor genader, en hy het gedink dit is ‘n uitstekende idee. Dit is verder gevoer saam met wyle Hein Swart, wat Die Burger se sakeredakteur was.

Die doel met die toekenning is om erkenning te gee aan Wes-Kaapse sakelui vir die lewering van uitmuntende diens aan die sakesektor in die besonder en die gemeenskap in die algemeen.

Vir benoeming tot sakeleier is faktore soos geslag, ras en die omvang van ‘n onderneming nie van toepassing nie. Dit tel egter wel in 'n kandidaat se guns as hy of sy ook omgewingsbewus is en verdienstelike bydraes op maatskaplike en kulturele vlak aan die gemeenskap lewer.

Dit blyk uit die kaliber van die dertig sakeleiers wat reeds vereer is, dat hulle met hul sakevernuf wel diep, indrukwekkende spore in die gemeenskap gelaat het.

Vorige Sakeleiers van die Jaar

  • Johann Rupert (Rembrandt) – 1990
  • Christo Wiese (Pepkor) – 1991
  • Ton Vosloo (Naspers) – 1992
  • Wyle Pierre Steyn (Sanlam) – 1993
  • Raymond Ackerman (Pick n Pay) - 1994
  • Mike Levett (Ou Mutual) – 1995
  • David Jack (V&A Waterfront) – 1996
  • Whitey Basson (Shoprite) - 1997
  • Bill McAdam (BoE) – 1998
  • Wyle dr. Anton Rupert (Rembrandt) – 1999
  • Wyle Pam Golding (Pam Golding-eiendomme) - 2001
  • Leon Vermaak (Sanlam) – 2002
  • Wyle Johan Ferreira (Interkaap-busdiens) – 2003
  • dr. Edwin Hertzog (MediClinic) – 2004
  • Graham Power (Power-groep) – 2005
  • Jannie Mouton (PSG-groep) – 2006
  • dr. Iqbal Survé (Sekunjalo-groep) – 2007
  • Andrew Boraine (CapeTown Partnership) – 2008
  • Philip Krawitz (Cape Union Mart) – 2009
  • G.T. Ferreira (RMB) – 2010; Dutoit-groep – 2011
  • dr. Johan van Zyl (Sanlam) 2012
  • Attie van Wyk (Big Concerts) – 2013
  • Riaan Stassen (Capitec) – 2014
  • Arthur Gillis (Protea-groep) – 2015
  • Fred Robertson (Brimstone) – 2016
  • Wendy Appelbaum (De Morgenzon) – 2017
  • Francois van Niekerk (Mergon) – 2018
  • Hendrik du Toit (Investec) – 2019

AMBASSADEURS

Image

Oor die jare het die Kaapstad Sakekamer gespog met ambassadeurs soos Nobelpryswenners Albert Luthuli (politikus en aktivis), emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, en die oudpresidente Nelson Mandela en F.W. de Klerk.

Waar eer aanvanklik gebring is aan Nobelpryswenners, is later besluit om dit uit te brei na ander leiersfigure soos:

AMBASSADEURS OOR DIE JARE

  • 2009 - Mark Shuttleworth, entrepreneur, hoof van Canonical en stigter van Ubuntu
  • 2010 - Danny Jordaan, president van Safa
  • 2011 - Gary Player, legendariese gholfkampioen
  • 2012 - Dr. Bernie Fanaroff, direkteur van die SKA Suid-Afrika projek
  • 2013 - Kevin Vermaak, stigter van die Cape Epic
  • 2014 - Francois Pienaar, voormalige Springbok-rugbykaptein
  • 2015 - Nick Sloane, spesialis veral bekend vir die berging van die wrak Costa Concordia
  • 2016 - Trevor Manuel, voormalige kabinetsminister en oudminister van finansies
  • 2017 - Dr. Susan Vosloo, eerste vroulike hartchirurg in SA
  • 2018 - Jan van der Westhuizen, eerste SA Michelin-sjef in SA
  • 2019 - Hoofregter Mogoeng Mogoeng

Sluit Nou Aan!

Een van die groot voordele van lidmaatskap is dat lede afslag van 10% op die standaardsitplekprys vir die Sakeleier van die Jaar-banket geniet. Die enigste vereiste is dat lede voor die afsnydatum ’n tafel bespreek en betaal. Voltooi die vorm hieronder of vorms kan ook verkry word by enige van die Kaapstad Sakekamer se geleenthede.
Sluit Nou Aan!